Kinderstories en die Kruger wildtuin - vanaf Nabana Lodge

Posted by Magda on Tue June 18, 2019 in Tourism.

“En wat kan die masjienmens van ons tyd meer kalmeer as die geluid van water, of die roep van n voël, of die oë van n wildsbok of die grasie van n kameelperd se stap of die barre eenvoud en onbeweeglikheid van n rots?

Aletta Lübbe – Vanuit n ander hoek.

 

 

Ek sou dit nie beter kon stel nie, Om Kruger wildtuin toe te gaan is inderdaad om soos deur n gordyn n ander wereld te betree. En as jy boonop n Sanparks Wild Card het en jou kleinkinders daarop kan byvoeg raak dit n opwinding wat rekenaarspeletjies ver oortref. Die vorige aand word gepak in orde van belangrikheid: verkykers, kamera, verwysingsboeke,  koffie, beskuit,  toebroodjies en koeldrank.

Voor die son opkom sit ons reeds voor die hek. Die ritueel word afgeskop met soete soet koffie,  beskuit en n lewendige debat van wie wat eerste gaan sien.  Met twee op die agtersitplek, een wat links en die ander regs moet soek en  die ander twee in die stasiewa se laairuimte, een wat vorentoe en die ander agtertoe moet kyk is daar skrale kans dat hierdie jong en ogies veel gaan mis. En alles tel…..selfs ook “ouma, ouma…daar is mis in die pad”!

Tussen wild soek, bome uitken en voëls beloer is daar ook filosofiese gesprekke, terg en lag, en as die stoeiery ouma oorhand kry maak ons n ander plan en soek n lekker, harde maar kortstondige ritme op die radio. Darem nie te ver tussen Phabeni hek tot by Skukuza golf klubhuis waar ons vinnig ontbyt en die 4 die vrypostige apies so op hulle herrie gee dat ouma haar ontbyt rustig kan eet sonder om daarvan beroof te word.

Noudat die apies weer in toom is en die kleingoed ontslae is van uitbundige energie stop ons by Lake Panic – elkeen gewapen met n verkyker. Ernstige fotograwe kyk aanvanklik vererg op as ouma en die klein mensies die heilige spasie betree, maar ontspan opsigtelik wanneer die viertjies doodstil op n ry met verkykers voor die oë stil raak. En wanneer hy n swart reier met oopgespalkte vlerke in die lens kry fluister die oudste dringend “Look ouma, n hug me bird!”

Terug in die kar word Kruger Self-Drive van van den Berg se roetegids bestudeer en die res van die dag beplan. Tsokwane piekniekplek kry vandag voorkeur en spore word met erns gesoek in die afdraai grondpaadjies, soos ook die kwistende luiperdstert in n boom. Vir n ouma kan “wait, ouma, wait – go back” nooit te vêr terug wees nie. En wanneer ons die troupant in die boom kry word naslaanboeke uitgehaal en ons lees op en identifiseer die boom: VanWykshout, wetenskaplike naam Bolusanthus speciosus. Klink soos? “Bolletjie spies” en terwyl ons verder ry word dit n refrein soos ons by dié mooi boom verbyry totdat “bolletjie spies” verander in Bolusanthus specious, wanneer die mondvol woord  met gemak van die tong afrol.

En so gaan hierdie mooie dag verby met  die tweede jongste wat onder n kombersie induik wanneer n olifant oor die pad stap, die seuntjies begin stoei en ons eers weer stop om plekke om te ruil. Uiteindelik hou ons stil by Nyamundwa dam om die dag af te sluit en te wag tot op die laaste nippertjie voor ons by die hek moet wees, tot groot bekommernis van die jongste wie se pa n restaurant en kroeg bedryf. En in die spanning van die oomblik toegangshek en werkplek verwar met n benoude: “ouma, we have to go - the bar is going to close!”

Kosbare, kosbare tye. En indien julle ook sulke herinnering wil skep, kom bly gerus by ons oor by Nabana Lodge, net so 23 km vanaf Phabeni  en 22 km vanaf Numbi hek na die wildtuin. Stuur jou besprekingsnavraag na: bookings@nabanalodge.com of bespreek sommer aanlyn op die webtuiste.